Javascript Menu by Deluxe-Menu.com




Wes-Bolandjag : Tak van die Kaapse Jagters- en   Wildbewaringsvereniging
     Voorsitter: Kobus van Niekerk - 083 460 3474

OPGEDATEER 15/03/2024 @ 13:00 PM

      

Free Website Counter

 

 

Agtergrond en Stigting:

Gedurende die loop van 1998 – 1999 is daar deur ’n paar persone op Moorreesburg – wat toe reeds lede van KAAPJAG (Kaapse Jagters- en  Wildbewaringsvereniging) was – die behoefte uitgespreek om 'n plattelandse Jagtersvereniging in die Swartland omgewing te stig.

Die gevoel was dat daar baie gereelde jagters in die omgewing is wat nie aan Kaapjag behoort het nie en nie van die voordele wat dit inhou, gebruik gemaak het nie. Dit moet egter duidelik gestel word dat die behoefte om ’n Jagtersvereniging te stig nie as gevolg van die vuurwapenwet ontstaan het nie. Dit het suiwer ontstaan om jagters plaaslik bymekaar te bring en hulle belange te bevorder en te koördineer.

Drie persone by name Dirk van Jaarsveld, Gys van Schalkwyk en Dolf Visser het besluit om op die moontlikheid van die stigting van ’n plaaslike plattelandse Jagtersvereniging in te gaan. Daar is egter gou ingesien dat ons doodeenvoudig net nie oor die kennis en infrastruktuur beskik om ons eie onafhanklike Vereniging te stig   nie. Die moontlikheid om as ’n Takvereniging van Kaapjag te funksioneer het toe ter sprake gekom. Daar is met Tom Joubert, wie op daardie stadium die Voorsitter van Kaapjag was, in gesprek getree. ’n Ontmoeting met hom en sy Bestuur het in Bellville plaasgevind en ons het hom na Moorreesburg genooi om die prosedure aan ’n klompie belangstellendes te verduidelik. Groot was ons verbasing toe 41 persone vir dié inligtingsessie opdaag.

Op Maandagaand, 18 Oktober 1999 is die eerste Takvereniging van Kaapjag dan toe ook op Moorreesburg gestig. Sewe-en-veertig (47) persone het die stigtingsvergadering bygewoon en lid geword. Die gestigte Vereniging sou die Grondwet van Kaapjag ten volle onderskryf asook die volgende doelwitte nastrewe:

■ Om die kennis en liefde van wilde diere en die natuur in die algemeen te bevorder.

■ Om goeie en gesonde sportmanskap na die strewe en om etiese jagmetodes te bevorder.

Om aktief teen die roekelose uitroei van wilde diere en die vernietiging van die natuur ernstig teen te werk.

■ Om alle landswette en ordonansies in verband met die bewaring van ons Fauna en Flora na te kom.

■ Om die verantwoordelike besit en hantering van vuurwapens, veral jaggewere, by mede jagters in te skerp.

Die naam van die Vereniging sou wees "Wes-Boland Jagters- en Wildbewaringsvereniging", terwyl die Steenbokkie, alom bekend in die omgewing, as die logo of kenteken sou dien.

Wes-Bolandjag is verder gebou op die beginsel van "jagter help jagters".

Die Bestuur:

Dolf Visser is in 1999 tot die eerste Voorsitter van die Vereniging verkies met Dirk van Jaarsveld as die Sekretaris. Die Vereniging het oor die laaste 23 jaar baie gegroei en bestaan die Bestuur tans uit tien (10) toegewyde bestuurslede.

Wes-Bolandjag Bestuur 2015/2016
 

Die 2015/2016 Bestuur van Wes-Bolandjag – Agter van links na regs Andre Scott (Tesourier), Roland van Wyk, Jan Olivier.

Middel Wihan Kitshoff, Albert Carstens, Kobus van Niekerk (Voorsitter) en Braam Marais. Voor Links na regs  Anton de Klerk

(Onder Voorsitter & Sekretaris), Servaas Rabie, Charles Malherbe en John Carter. (Afwesig Willie Kitshoff)

Die Voorsitter woon die vergaderings van die Uitvoerende Bestuur van Kaapjag by en kry die tak die geleentheid om insette te lewer en homself te vergewis van die rigting waarin Kaapjag as organisasie beweeg. Ons opregte dank en waardering dan ook langs hierdie weg aan die Voorsitter van Kaapjag met sy Bestuur vir hul ondersteuning, belangstelling, simpatieke oor en kundige raad.

Dit is werklik aangenaam en ’n voorreg om deel te wees van so ’n groot jagfamilie.

Bedieningsgebied:

Wes-Bolandjag bedien min of meer die dorpe / distrikte van Malmesbury, Moorreesburg, Piketberg, Eendekuil Citrusdal, die Riebeke, Tulbagh, Wolseley. Alle lede of belangstellendes is egter welkom om Saterdae ons skietaktiwiteite by te woon

Ledetal:

Wes-Bolandjag is een van Kaapjag se takke met die mees opbetaalde lede. Die Bestuur is jaarliks behulpsaam met Toegewyde Jagteropleiding soos omskryf in die vuurwapenwet asook die werwing van nuwe lede tydens hierdie geleenthede.

Aktiwiteite:

Wes-Bolandjag bied min of meer op elke derde Saterdag van die maand ’n plaaslike skietaktiwiteit aan wat jaarliks in gewildheid toeneem. Die aktiwiteite vind meestal op die 500 meter geakrediteerde skietbaan net buite Moorreesburg plaas. Pretskietaktiwiteite op verskillende diere-teikens oor verskillende afstande, vind groot byval. Dit is veral by hierdie skietaktiwiteit wat skuts die geleentheid kry om die drie   skietposisies (naamlik sit, staan en lę) onder die knie te kry. Groeperingskiet met verskillende kalibers jaggewere, silhoëtskiet met .22LR, die skiet op valplate en ghongs oor lang afstande asook kleiduifskiet neem steeds jaarliks in gewildheid toe. Terloops, die baanrekord vir die beste groepering op ons skietbaan word gehou deur Greg Sykes met ’n groepering van 4.83mm met sy .308.

Die verantwoordelike en veilige hantering van vuurwapens asook baandissiplines word gereeld tydens bogenoemde skietaktiwiteite vasgelę. Lede word gehelp om hulle teleskope reg in te stel en die begrip van “zeroing” te verstaan en daar word gereëld gedagtes gewissel na afloop van skietaktiwiteite oor metodes om afstand in die jagveld te skat. Dit is verder ongelooflik hoe van die skuts wat gereeld deelneem aan Wes-Bolandjag se skietaktiwiteite, se skietvermoë oor die afgelope aantal jare ontwikkel het.

Wes-Bolandjag is ook deur Kaapjag opgelei om die CHASA Teoretiese / Toegewyde Jagters Kursus sowel as praktiese skiettoetse plaaslik aan ons lede aan te bied. Trouens, ander takke soos Weskus, Namakwa en Boesmanland maak gereeld van ons dienste gebruik om hulle lede ook as Toegewyde Jagters op te lei. Verder neem ons tak ook gereeld deel aan inter-takkompetisies teen Weskus en Boesmanland en vaar redelik goed.

Die Bestuur moedig gedurig lede aan om hulle as Toegewyde Jagters te bekwaam. Juniors geniet ook baie aandag tydens die skietaktiwiteite en het ons Vereniging alreeds junior jagterskursusse in samewerking met Kaapjag aangebied. Die juniors kry op so 'n kursus die geleentheid om saam met mede Bestuurlede hulle eerste bok te skiet, te leer hoe om dit af te slag en ook hoe om 'n trofee dier te hanteer en die vleis te bewerk.

Wes-Bolandjag onderskryf verder die beginsels wat met die volgende gepaard gaan:

  • Wettige geweereienaarskap

  • Vuurwapenveiligheid

  • Gesonde jagetiek

  • Lede ondersteuning en bystand

Wes-Bolandjag funksioneer as tak binne die ondersteunings- en bystandraamwerk van die Kaapse Jagtersvereniging (Kaapjag) as die moederliggaam wat op sy beurt by die Konfederasie van Jagtersverenigings van Suid-Afrika (CHASA) geaffilieer is as 'n wettige Jagtersorganisasie in terme van die vuurwapenwet.

Doelwitte vir die nuwe seisoen:

Die Bestuur wil graag die volgende voorlę:

·        Afhandeling van die skietaktiwiteite en CHASA opleiding soos uiteengesit in die jaarprogram;

·        Opleiding van juniors met die oog op ’n junior jaguitstappie gedurende die Junie skoolvakansie.

·        Betrokke raak by die beoogde program om baanbeamptes vir skietaktiwiteite van Kaapjag op te lei;

·        Beter samewerking met ander Kaapjagtakke te verkry;

·        Om die bewaring van natuurlike hulpbronne altyd te bevorder en

·        Om etiese en volhoubare jag te alle tye te profeteer en aan te moedig.

Vir enige ander informasie kontak gerus vir Kobus van Niekerk (Voorsitter) – Wes-Bolandjag

 by 083 460 3474 (s)

"Dit is vir die bestuur van Wes-Bolandjag baie aangenaam om hierdie webblad aan alle belangstellendes, maar veral aan lede van ons Vereniging voor te lê. Wes-Boland Jagters- en Wildbewaringsvereniging wat op Moorreesburg gestig en gesetel is bestaan vanjaar al reeds 19 jaar en het ons ledetal oor die jare heen al gegroei tot 293 lede in totaal waarvan 185 Toegewyde Jagters is.

Nuwe lede sluit egter daagliks aan hoofsaaklik as gevolg van die verpligtinge van die vuurwapenwet. Op hierdie   webtuiste is daar die laaste paar jaar se uitslae van skietaktiwiteite, waaraan lede aktief deelgeneem het, interressante nuus, jag inligting en dokumentasie, sowel as jagfoto's van ons lede.

Gedurende 2009 se AJV is die Wes-Boland Handwapenklub apart, maar onder die beskerming van Wes-Bolandjag gestig. Gedurende die jagseisoen van 2007-2008 ontvang ons gewese Voorsitter, Dolf Visser die gesogte toekenning “Lid van die Jaar” van die Kaapse Jagtersvereniging (Kaapjag) en ontvang tesame erelidmaatskap vir die betrokke jaar.

Gedurende dieselfde jaar tydens die Gala-aandfunksie van Kaapjag word die “Tak van die Jaar” – Trofee ook aan die Voorsitter - Dolf Visser van Wes-Bolandjag toegeken as erkenning vir die tak se bydrae tot die bevordering van Kaapjag as geheel. (Dolf volstry egter sy stryd teen kanker en ons groet hom op 18 Junie 2013 in die ouderdom van 72). 

Wes-Bolandjag se Bestuur in 2008 met die Kaapjag - Tak van die jaar toekenning.

Gedurende 2018, tydens Kaapjag se Algemene Jaarvergadering, word die “Tak van die Jaar” – Trofee ook aan die Voorsitter - Kobus van Niekerk van Wes-Bolandjag toegeken as erkenning vir die tak se bydrae tot die bevordering van Kaapjag as geheel.

Die stigterslede soos oom Dolf het sowaar die fondament gelę waarop ons vandag kan voortbou om dit vir ons nageslag moontlik te maak.

Ons sê verder baie dankie aan ons huidige Bestuur, lede en borge wat ons so gereeld deur die jaar ondersteun en ook baie geluk aan die skuts wat suksesvol was".

Webmeester: CJ Malherbe
Kopiereg © 2005 Charles Malherbe